
Steeds in verwondering oor al die lesse wat Lankstaan my geleer het, wil ek nou teruggaan en die mense om my onthou.
Daar was ‘n paar waaraan ek nou kan dink wat my laat glimlag, en ‘n ander waaraan ek met deernis dink. Twee mense voor my staan sy, ‘n mooi vrou – ook in haar middeljare, nes ek – maar die “spaghetti’s” in haar ore laat ‘n glimlag om my mondhoeke vou. Iets sê vir my sy was meer voorbereid as ek – sy het darem musiek om die tyd om te kry, en haar gemaklike skoene verklap dat sy gereed was vir die staan. Kort-kort, nes ek, wikkel sy haar bene en ‘n rukkie later kies sy koers na ‘n vullisdrom oorkant die pad om ‘n amper onsigbare papiertjie weg te gooi. Slim! dink ek – nou het sy haar bene ge-oefen.
Agter my staan ‘n reeds omgekrapte vrou. Aan haar swart uniform, wat haar werkgewer se naam in rooi en wit uitblaker, kom ek gou-gou agter sy is ‘n vuurvreter – gewoond om bevele te gee. Hierdie een duld geen nonsens nie. Summier kla sy oor die ry wat te lank is en die tyd wat gemors word. Tog reken sy dis beter by hierdie kantoor as in die dorp. By gebrek aan die regte woord vir die vroulike vorm van Kopokhaantjie, doop ek haar in my gedagtes sommer “Kapokkie”. Sy staan ‘n wyle, dan kry sy haar sit op die sypaadjie. Later skuif sy na die middelmannetjie waar daar darem ‘n lappie groenerige gras is. Na ‘n rukkie kom sy en haar metgeselle terug en val weer in die ry.
Nadat ek vir my ‘n pakkie Sout-en-Asyn skyfies by die staatsmous gekoop het, stamp sy aan my. “How much” vra sy. R7 antwoord ek. ‘n Paar minute gaan verby waarna sy haar dogter stuur om vir hulle ook skyfies te koop. Die skyfies vergete, skuifel sy en haar metgeselle verder, weer op soek na ‘n stukkie skaduwee onder ‘n boom. Die aanvanklike slang-ry is nou ‘n bondel.
Op sementgeboude bankies neffens die straatsmous, sit ‘n klompie ouma’s wie se bene dit lankal nie meer kon hou nie. Een van die ouma’s eet skyfies uit haar kleinkind se pakkie – sy vat amper die helfte van die skyfies – siestog dan deel hy nog met ander ook. Ek wonder so in my enigheid hoeveel het vir hom oorgebly. Maar sy mededeelsaamheid word later beloon toe die straatsmous vir hom ‘n stokkielekker gee. Gratis en verniet. Hy geniet die stokkielekker terdeë, maar die “sugar rush” wat daarmee saamgaan, hou sy mamma en ouma lekker besig.
Die staan is lank en ek verwissel weer van been en dan val my oog op die ouma se voete. Skielik voel ek baie beter oor my eie moeë voete. Hierdie arme ouma se voete pof soos uitgeryste vetkoekdeeg oor haar skoene. Dit gaan my verstand te bowe dat sy hoegenaamd op daardie voete kon staan. Ek gun haar ‘n sitplek op die harde sementbankie. Ten spyte van die hitte en lank wag, sit sy en kuier saam met ander ouma’s en hou haar kleinkind besig. Iemand staan van die bankie af op, en die oupa wat intussen voor my op die paadjie gaan sit het, vra ewe beleefd of hy op die bankie mag sit. Die verligting om vir ‘n oomblik meer gemaklik te kon sit, was duidelik op sy gesig sigbaar.
Die “Spaghetti”-vrou staan nou voor my. Sy haal die drade uit haar ore en sê vir my sy is nou al moeg gestaan, haar rug pyn – ek deel haar gevoel. Dis die tweede maal dat sy so lank wag, sê sy, daarom het sy musiek saamgebring. Net soos ek – kon sy ook nie regkom op die Departement se aanlyn stelsel nie, daarom staan sy maar. Die voortuisig om binnekort vir 2 maande by haar New Zeeland kinders te gaan kuier, maak die staan die moeite werd. Die verlange na haar kinders en kleinkinders vreet haar op. Aangesien sy onlangs weer getroud is, na klomp jare se alleen wees, moes sy al haar Belangrike Dokumentasie verander voordat sy haar reisplanne in aksie kan sit. Kort-voor-lank deel sy met my haar lewensverhaal en besluite wat geneem is wat haar lewe verander het. So skuifel ons treetjie vir treetjie nader aan die deur terwyl ek aandagtig na haar vertellinge luister. Ek dink daaraan hoe maklik sy dit vir my as vreemdeling vertel. Dalk het sy ‘n gewillige oor nodig gehad wat haar hart kon hoor, of net ‘n behoefte om bietjie met iemand te gesels om die alleenheid te verdryf. Na ure se saam kuier en luister, maak ek en “Spaghetti-vrou” eindelik amptelik kennis. Nou het sy ‘n naam en ek weet van waar sy kom, en veel meer…
Ons is naby die deur en die Oupa kom neem weer sy staanplek by ons in en wys na die klein kleutertjie wat ‘n platgetrapte sigaretstompie in haar mond prop. Haar mamma gryp die ding uit haar mond en lei haar aandag na iets anders. Ons verkyk ons en giggel oor mense se reaksie wat steeds by die deur wil probeer ingaan en die geskokte uitdrukkings wanneer daar besef word, hulle moet agter in die slang-ry staan. Sommiges draai summier om en loop weg, ander kyk moedeloos na die ry – asof hul dit weg wens, en die dapperes… hulle val agter in die steeds groeiende ry.
Kapokkie het ook intussen weer in die ry geval agter my. ‘n Man, sy vrou en hul seun stap vanuit ‘n ander rigting, doelgerig na die deur, en na ‘n baie kort gesprek, kan hulle die gebou binnegaan. “NO FAVOURS” sal hier toegelaat word nie, raas sy. Sy storm op die deur af waar sy hard met die beampte praat. Na ‘n aanvaarbare antwoord, drentel sy terug. Sodra dit lyk of iemand na die deur se kant toe mik, storm Kapokkie met “NO FAVOURS” deur toe. Na die derde keer en aanvaarbare antwoord, het sy ook maar bes gegee.
In die heerlike koel gebou, sit ons skaars, toe word my vriendin se naam uitgeroep en sy verdwyn na ‘n stasie om die hoek. Kapokkie en ek skuifel kort-kort na die volgende stoel en sy mompel weer iets.
Iets vang my oog – toe ek opkyk, is dit my nuutgevonde kennis wat uitbundig vir ons waai om Totsiens te sê. Tewyl ek, Kapokkie en die Oupa vir haar wuif, groet ek haar in my gedagtes… Sterkte, liewe vrou!
Hierdie staan het my geleer dat ander meer swaarkry as ek.
Ek het geleer dat ek baie het om voor dankbaar te wees.
Ek het geleer dat ‘n vriendelike woord, ‘n glimlag en ‘n simpatieke oor, nuwe vriende kan maak.
Ek het ook geleer dat mens soms so vinnig oordeel deur net na die oppervlak te kyk. Kyk dieper. Loop eerder 2 myl in iemand se skoene voordat jy oordeel.
Ek het geleer dat jy soms die Enigste Bybel is wat sommige mense ooit sal lees.